Ek word genoem: Paul, Tabo, Pauletooi, ens.
Ek verjaar 28 Oktober en is in 19 gebore (ek mag nie my ouderdom verklap nie, want Amelia is nog so 6 maande ouer as ek). My hele skoolloopbaan was ek in Bloemfontein en is daarna Tuks toe waar ek vir Mielie ontmoet het. In my vrye tyd het ek Meganiese Ingenierswese gestudeer.
My ander stokperdjies is: enigiets met rekenaars te doen, veral programmeering, vlieënde goed soos boemerangs en vlieërs. Die res moet maar wag tot die kleingoed groot is...en tot die huis klaar gerestoureer is. (Dié hou 'n mens mos vir altyd besig)
Ek geniet muurbal, pluimbal en fietsry.... ek kan egter nie al die reëls so mooi onthou nie... hmmm.... so bietjie lanklaas by sport uitgekom... !!?
My gunsteling gereg(te) is moussaka & lasagne en 'n glasie rooiwyn is altyd lekker.
Ek werk as projekingenieur by Haden Drysys en is huidiglik met 'n projek by Daimler Chrysler in Oos-Londen besig.
Vir nou is ek hoofsaaklik Pa en geniet ek dit om elke aand my nuwe seunskind te bad.
Paul noem my Mielie, maar andersins is ek net Amelia.
Ek is in Oos-Londen gebore, die 28ste April. Ek was tot in matriek in die Oos-Kaap en het toe Inligtingsontwerp by Tuks, in Pretoria, gaan studeer. Na ek 'n draai in Jo'burg gemaak het is ek en Paul getroud en toe't ek saam met hom begin rondtrek...Rietkuil, Middelburg, tot hier in PE waar ons gesin toe sommer vinnig "gebeur" het.
Ek's baie lief vir Meditereense kos, veral Griekse kos en is net so lief soos Paul vir 'n glas rooiwyn, o ja, 'n romerige likeur sal ook doen. 'n Resepteboek kan ek nie uitlos nie en ek geniet dit vreeslik om met blomme te werskaf. Ek moes ook vinnig leer naaldwerk doen om die kroos te klee. Wat sport(ief) betref...kom ons "skip" die onderwerp.
Ek het tot Februarie by Trio, 'n advertensieagentskap, gewerk, waarna ek vanaf die huis begin werk het. Ek is egter nou eers vir 'n rukkie net Ma. Daarna hoop ek om weer verder vanaf die huis te werk (en miskien my blommerangskik-stokperdjie tot iets te ontwikkel).
Mamma en Pappa noem my Christiaan. Dolly noem my Chrisjan en my oupa Jeffreys noem my Jantjie!!?!?? Gelukkig weet hy nog nie wat ek hom noem nie....
Ek is gebore op 23 Mei 1997 in die Baai. Ek was 'n baie soet baba, maar Mamma en Pappa së ek is nie meer nie. Hulle së ek is nou terrible twee of so iets en baie woelig.
My gunsteling speelgoed is my trekker en my trokke, al my trokke. My plaasdiere dra ek orals saam met my. Ek kan baie goed puzzle bou, maar stel nie so veel belang om soos grootmense te praat nie. Hulle verstaan mos goed genoeg as ek my eie taal praat.
Achilles, my wiefie, is my beste maatjie, maar die twee katte is nie baie lief vir my nie.
Ek is baie lief vir my boetie, maar ek weet nie hoekom wil Mamma en Pappa nie hë ek moet hom optel nie.
Ek word Sebastian genoem, maar Christiaan noem my Boetie. Ek het klaar gehoor oupa Jeffreys praat van Basjan!!??
Ek is nou die dag gebore, die 14de Mei 1999. Ek het 3.7 kg by geboorte geweeg en Mamma en Pappa së ek is 'n vraatjie aangesien ek 'n week later 4.1 kg geweeg het.
Ek het nog nie baie stokperdjies nie, maar 'n gunsteling is om in die nag my Mamma en Pappa wakker te hou. My humeur is nogals iets en ek raak skoon pers as ek huil. Mamma en Pappa is darem baie lief vir my al is ek so 'n kwaai babatjie.
Ek het net een speelding en dit is my pienk varkie, Ouboet het die res geannekseer.